Skip to the content

'n Hond spesiaal net vir jou

Geskryf deur Sonelle van Wyk

Mense wat my leer ken, noem my “The Crazy Dog Lady”. Sommige mag dit goed bedoel en ander nie, maar dit pla my glad nie. My liefde vir honde het ’n paar jaar gelede ontstaan toe ek my  twee dachshunde gekry het: Chloe, sjokoladebruin en taan en Lilly met roomkleurige skakerings.

hond_2

Ons het saam die reis by Furrytails Dog Training begin met klasse vir klein hondjies en daarvandaan verder gevorder. Ons het vandag deelgeneem aan gehoorsaamheidskompetisies en baie plekke behaal in karretjiekompetisies soos die algehele plek as ’n nuweling minihond vir die naweek. Ons ontvang opleiding in hoepelspring en leer ook om volgens ons ras te stap en te beweeg.

Met hierdie twee honde het ek die wêreld van hondesport betree. Tog het ek gou besef dat hulle nie gebou is vir hoepelspring (agility ring craft) nie omdat hulle nie so hoog kan spring soos wat in kompetisies vereis word nie. Maar ek was verlief op dié sportsoort en het na ’n honderas begin soek wat kan tred hou met my.

Dit is waar my pad saam met Ranger, my Skotse skaaphond, begin het. Ek het na telers begin soek en uiteindelik my hond gekry. Eers het ek gedink dit sal ’n maklike pad wees. Maar deur Ranger het ek baie geleer oor genetika en hoe dit ’n hondjie kan affekteer. Ekhond_3 het geleer waarna ’n mens moet oplet as jy ’n hondjie aanskaf, en te doen gekry met beserings op ’n jong ouderdom. Ons is deur gedragsessies en baie opleiding en ervarings in openbare plekke saam met ander honde en mense. Maar dit was die moeite werd. Ek sal dit nie weer met ’n ander hond doen nie, maar Ranger het my so baie geleer dat ek hom vir niks ter wêreld sal verruil nie.

Deur Ranger het ek geleer om hondegedrag te waardeer. En ek kan my studente help want ek gee klas by Furrytails Dog Training in hoepelspring en toertjies. Ek het ook by COAPE ingeskryf vir ’n diploma in hondegedrag. Wat ek eintlik probeer sê is dat elke hond wat ons pad kruis ons iets nuuts leer. Maak nie saak of dit iets nuuts is vir jou of vir die hond self nie. Honde neem ons op verskillende reise gedurende hulle kort lewe op aarde.

Afgesien van ons probleme wat ons daagliks moet oorkom, het Ranger die eerste plek behaal in hondedans en ook baie plekke in hoepelspring en in liggaamshouding. Ons ontvang ook opleiding in gehoorsaamheid en Flyball (resies om ’n tennisbal te gaan haal). Ranger het ook ’n titel vir gevhond_4orderde hondetoertjies gewen en ons hoop om vroeg volgende jaar die Expert Trick Dog-titel te wen. En wie weet, dalk haal ons eendag die Suid-Afrikaanse Agility-span…

Ek sal altyd dankbaar wees vir elke hond wat my lewe verryk  ̶  met elkeen se grille en giere. Sonder hulle sal ek nie ék wees nie. Sonder hulle sal ek nie “The Crazy Dog Lady” wees nie. Baie dankie aan Ranger en al my gewaardeerde vierbeenkinders: Benji (12), Maxie (12), Chloe (8), Lilly (7), Cara (3), Ranger (2) en baba Lyra (4 maande).