Skip to the content

’n Brief aan my Dad

Hoe beskryf jy die liefde wat ’n pa en sy dogter deel? Pa-wees kan nie omskryf word met ’n enkele woord of selfs ’n kragtige sin nie. Pa-wees word nie gevind in mooi woorde nie; dit lê in liefdevolle dade sonder ophou oor jare heen.

’n Pa se liefde is soos ’n skatkis gevul met skatte en juwele van die hart, met eksklusiewe toegang vir sy lieflingprinses.

Die liefde van ’n pa is in die reuk van die warm koppie koffie wat elke oggend vir my staan en wag. Sy liefde is in sy bemoedigende woorde voor jou eerste dag van skool, voor elke groot eksamen en selfs voor jou eerste date. Die trots en selfversekerdheid in sy stem kwyn nooit nie wanneer hy sê: “My pop, jy kan enige iets doen.” Sy liefde is in die optel en afskud ná elke terugslag en teleurstelling wat op daardie oomblik vir jou voel soos die einde van die wêreld. ’n Pa se liefde is in die selfversekerde glimlag wat hy vir jou gee wanneer jy met benoude vlinders in jou maag sy gesig in die gehoor van die verhoog af soek.

My veilige hawe word gevind in die arms van my Pa wat my beskerm soos die mure van ’n kasteel en met my kop teen sy bors hoor ek die klop van sy hart wat al die onrustigheid binne my tot ’n skielike kalmte bring.  

’n Pa is sy dogter se eerste liefde en die enigste liefde wat met ’n lewenslange waarborg kom. Hy sal jou hart oppas en koester met groter sorg as dié van sy eie. Daar is baie teleurstellings in ’n jong dame se lewe wat soos die einde van haar bestaan voel, die grootste dalk jou eerste liefdesteleurstelling wanneer jou hart in skerwe op die vloer lê. Dankie dat Dad daar was om saam die skerwe van my hart op te tel sodat ons saam ’n mosaïek vir my toekoms daaruit kon bou.

’n Pa word geken aan sy liefde en omgee, sy raadgee en tug, sy aanmoediging en troos. Die rolle wat ’n pa moet vervul is uiteenlopend en die waardering daarvoor word nie altyd uitgespreek nie.

My Pa is my held en beste vriend, hy het my geleer dat ek tot alles in staat is, hy het my geleer wat onvoorwaardelike liefde werklik is. Hy het die baie hoë standaard gestel vir elke man wat die moed het om in my lewe te kom. Dad het my uitgestuur in die wêreld met ’n hart vol liefde en ’n gees vol waagmoed.