Skip to the content

ATKV Aanlynbesprekings Nou Beskikbaar

Op 14 Oktober 2019 sal die ATKV hul splinternuwe aanlynbesprekingssiteem van stapel stuur, met die ATKV Klein-Kariba vakansieoord wat die eerste is om dié nuwe verbruikersvriendelike sisteem op die proef te stel. Volgens beplanning sal die oorblywende ses oorde binne die volgende twee maande ook dié nuwerwetse fasiliteite aanbied.

Voornemende gaste kan uitsien na ’n vinniger, geriefliker wyse van besprekings afhandel met die bonus opsie om die verskeie aanbiedinge van ’n spesifieke oord na te gaan voor hulle bespreek. Verbruikers kan ook met eerste oogopslag bepaal wat die oord se beskikbaarheid is voor hulle kies om te bespreek, en daar sal van tyd-tot-tyd eksklusiewe aanlynpromosies geloods word waarvoor gaste kan uitkyk.

Die aanlynbesprekingsproses is eie aan elke besoeker en kan so vinnig as binne vyf minute afgehandel word! Tog, met die ATKV-oorde se talle akkomodasie- en kamperingopsies, mag sommige verbruikers langer neem om ’n bespreking af te handel as ander. Vir diegene wat vashaak is daar ’n “Hoe Om?” video op elke oord se webwerf en sosiale media kanale geplaas met ’n kort verduideliking oor hoe om die sisteem te gebruik. Daar is ook ’n gewyde FAQ-bladsy op die ATKV se webblad wat moontlike vrae en kommernisse aanspreek.

In die lig van kuberkrakers en ander kuber-kwale het die ATKV met die POPI-geakkrediteerde sagteware ontwikkelaar, Nightsbridge, in vennootskap getree ten einde te verseker dat gaste se aanlynbetalings – danksy Nightsbridge se besprekingsstelsel, PayBridge – veilig geskied. Sodoende word gaste se kredietkaartbesonderhede nie gestoor nie, maar eerder tydens die transaksie geverifieer tesame met kommunikasie aan die betrokke bank om te bevestig dat daar genoegsame fondse beskikbaar is voordat die transaksie gefasiliteer word. Sodra die transaksie afgehandel is word die gas se kredietkaartbesonderhede van die stelsel verwyder, met slegs die bewys van betaling wat op die betrokke oord se rekords reflekteer.

Hoewel baie by dié nuwe sisteem aanklank vind, skakel dit egter nie die opsie vir telefoniese of in-persoon besprekings uit nie; en omdat die sisteem nog in die beginfase is, is alle besprekingsopsies nie dadelik aanlyn beskikbaar nie. As sulks sal lede wat die voorkeurbesprekingsvoordeel geniet steeds die oord van hul keuse moet skakel of in-persoon gaan bespreek – dié funksionaliteit sal egter vanaf 2020 ook die opsie besit om aanlyn te geskied. 

Afgesien van die ATKV se inhuis aanlynbesprekingssisteem kan voornemende gaste ook deur populêre aanlyn reisagente soos Lekkeslaap, Travelground, SafariNow en Afristay hul verblyf by ’n ATKV-oord bespreek.