Skip to the content

 

SSSSSLANG! Wees ingelig en voorbereid.

In ons nuwe maandelikse rubriek gaan loer ons na verskillende slange waarvoor vakansiegangers op die uitkyk moet wees by ATKV-oorde…

Nou kyk, daar is soveel mites wat oor ons glibberige vriende bestaan, soos: “Jy sal nooit vir ’n swartmamba kan weghardloop nie!” en “Die vroue in Natal dra mandjies op hulle koppe want die boomslange pik hulle vanuit die takke as hulle op die voetpaadjies deur die heuwels loop!” Die beste een is natuurlik die mense wat beweer dat sommige slange aan hulle sterte byt en summier soos ’n wiel rol om te kom waar hulle wil wees …

Al die mites ten spyt, is dit steeds nie ’n aangename ondervinding om een teë te kom nie. Dis egter ook nie meer ’n geval van “die enigste goeie slang is ’n dooie slang” nie want hulle speel ’n broodnodige rol in ons ekosisteem. Die ATKV het vakansieoorde regoor uiteenlopende dele van ons land, en elke deel het sy eie skubberige reptiele. In dié reeks gaan ons kyk na giftige slange wat algemeen voorkom in die omgewing van elke oord, asook wat om te doen as jy gepik word. Van die slange wat by meer as een oord voorkom (byvoorbeeld die pofadder), sal weer beskryf word. Noodnommers word ook aan die einde verskaf.

 

 

 

Voor ons begin, net bietjie agtergrond oor die verskillende gifsoorte waaroor slange beskik:

Sitotoksies: Pofadder, Mosambiekse spoegkobra

Gevolge van pik: Erge pyn, swelling en weefselskade wat kan lei tot amputasie.

Neurotoksies: Swartmamba, groenmamba en kobras wat nie spoeg nie 

Gevolge van pik: Beïnvloed die senuweestelsel en brein.

Hemotoksies: Boomslang, voëlslang

Gevolge van pik: Swelling en pyn, kan lei tot nierversaking. Beïnvloed die kardiovaskulêre stelsel en hart.

Let wel: Baie slange het ’n kombinasie van verskillende gifsoorte.

ATKV-Drakensville 

Die berge is sinoniem met slange en die binneland van Natal is geen uitsondering nie. Volgens Petré Theron, oordbestuurder van ATKV-Drakensville, is die meeste slange wat hulle by die oord teëkom, maar nagadders en af en toe ’n molslang. “By uitsondering, sal ons ’n rinkhals raakloop. Dan vra ons die personeel om die slang te vang en vry te laat in die natuur, weg van die oord af. Ons bied ook gereeld slangvertonings vir die vakansiegangers aan om hulle bewus te maak van slange in die area.”

Die volgende slangsoorte is eie aan die omgewing van Drakensville en besoekers moet kennis neem:

 

Puff Adder

Pofadder (Bitis arietans)

Gif: Sitotoksies

Klassifikasie: Baie gevaarlik

Lengte: Maksimum van 1 meter

Voorkoms: Regoor Suid-Afrika en in die noorde van Afrika

Pikgevalle: Algemeen

Die pofadder maak hoofsaaklik staat op kamoeflering. Daar is bevind dat die slang nie eers sal reageer as iemand op hom staan nie. Dit is dus moontlik dat stappers al op een getrap het! Hulle is meestal aktief gedurende die nag. Groot en vet van postuur met ’n blitsige pikreaksie. Die pofadder se gif is sitotoksies wat erge pyn, swelling en weefselskade rondom die pikplek aanrig, wat dan verder versprei. Die slang sal begin blaas en homself “oppof” (vandaar die naam) as hy bedreig word. 

 

’n Interessante feit oor pofadders: Pofadders skenk lewendig geboorte waar ander slange eiers lê. In werklikheid broei die kleintjies voor geboorte binne-in hulle ma uit die eiers, ’n proses wat bekend staan as ovovivipaar. Dis dalk die rede hoekom daar so baie pofadders is, want baie slangeiers van ander slange word deur ander diere opgevreet voordat hulle uitbroei.

’n Mite oor pofadders: “Pofadders pik agtertoe.” Dis nie waar nie; die posisie van hulle tande voor in hul bekke maak dit onmoontlik.

Rinkhals

Rinkhals (Hemachatus haemachatus)

Sitotoksies en neurotoksies

Klassifikasie: Baie gevaarlik

Lengte: Maksimum van 0.9 m tot 1.5 m

Voorkoms: Binneland van Natal en die Wes-Kaap

Alhoewel die rinkhals ook ’n bakkop het soos ander kobras, is hy nie werklik ’n kobra nie, en word geklassifiseer as Hemachatus subspesie. Rinkhalse kan tot 2.5 meter ver spoeg as hulle bedreig word. ’n Ander verdedigingsmeganisme van die slang is om te maak of hy dood is. Hy lê dan stil met sy bek oop – net om dan aan te val as iemand naby kom of aan hom probeer raak. Hierdie skyndood  word thanatosis genoem. Mense word egter selde deur rinkhalse gepik en dis meerendeels troeteldiere wat gepik word.

’n Interessante feit oor rinkhalse: Rinkhalse is baie lief vir paddas, so as jy op ’n plot of plaas bly met ’n visdammetjie, verwag dan maar hierdie glibberige besoeker!

’n Mite oor rinkhalse: “Indien iemand in die oë gespoeg word, moet melk of urine gebruik word om die gif te probeer uitwas.” Dis glad nie waar nie. Spoel die oë met water onder ’n kraan uit vir 15 tot 20 minute. Neem die persoon dan dokter toe.

 

Berg adder (Bitis atropos)

Bergadder (Bitis atropos)

Gif: Neurotoksies

Klassifikasie: Gevaarlik

Lengte: Maksimum van 0.6 m 

Voorkoms: Binneland van Natal en die Wes-Kaap

Die bergadder is bekend vir sy slegte humeur . Hy sis en pik blitsig as hy bedreig word. Wat hom onderskei van die meeste ander adders is die feit dat hy neurotoksiese gif het (dieselfde as die mambas).  Hy is lief daarvoor om in bergpaadjies en in die gleuwe van rotswande te lê. Daarom word baie stappers en bergklimmers deur bergadders gepik, en die pikplekke is gewoonlik op die hande en vingers. Alhoewel daar nie teengif vir die bergadder is nie, is geen ongevalle al gedokumenteer nie.

 

’n Interessante feit oor bergadders: Bergadders is baie gewild onder onwettige troeteldierhandelaars,  plaaslik en internasionaal. 

’n Mite oor bergadders: “Bergadders is net so gevaarlik soos ander adders.” Dit is nie waar nie. Alhoewel die simptome van ’n bergadder se pik ernstig kan lyk, is dit nie naastenby so gevaarlik soos dié van ’n pofadder of rinkhals nie.

 

Night adder (Causus rhombeatus)

Nagadder (Causus rhombeatus)

Gif: Sitotoksies

Klassifikasie: Gevaarlik

Lengte: Maksimum van 0.6 m tot 0.7 m 

Voorkoms: Binneland van Natal en die Oos-Kaap

Die nagadder kan die beste beskryf  word as bruin met swart diamantvormige patrone op sy lyf, asook ’n V-teken op sy kop. Hulle word dikwels aangetref in voorstedelike tuine. Nagadders is vinniger as ander adderspesies en kan tot 92 cm per sekonde beweeg. Hulle kan ewe maklik klim en swem.

’n Interessante feit oor nagadders: Hulle word baie gereeld verwar met eiervreters (Dasypeltis scabra). 

’n Mite oor nagadders: “Nagadders is net snags aktief.” O, nee! Volgens Nick Evans van die KZN Amphibian and Reptile Conservation kom hy nagadders selde in die aand teë, maar meestal gedurende die dag en teen laatmiddag!

 

Wat om te doen as iemand gepik is:

  • Skakel dadelik ’n noodnommer.
  • Ongelukkig is daar nie veel noodhulp wat toegepas kan word nie. Vergeet dus maar van drukverbande en toernikette en kry die persoon so gou as moontlik by die ongevalle-afdeling van ’n hospitaal.
  • Moenie tyd mors deur die slang te probeer identifiseer nie.
  • Moenie die gif probeer uitsuig nie want dit rig meer skade aan! 
  • Probeer kalm bly.
  • Skakel die hospitaal vooraf sodat hulle gereed kan wees met serum wanneer die slagoffer arriveer (afhangend van die beskikbaarheid van serum).

Noodnommers

Mountain Rescue: 0800 005133
Harrismith: Dr. Du Preez: 058 622 2666
Thebe Provinsiale Hospitaal: 058 622 1111
ATKV-Drakensville: 036 438 6287

Bronne en foto’s
www.southerndrakensbergtourism.co.za
https://www.africansnakebiteinstitute.com/snake/puff
https://www.leisurewheels.co.za/blogs/the-truth-about-the-puff-adder/
https://www.sabisabi.com/wildfacts/puff-adder/
http://www.berg.co.za/berg_adder.htm
http://www.tyroneping.co.za/snakes-southern-africa/bitis-atropos-berg-adder/
https://highwaymail.co.za/234515/snake-tales-what-you-need-to-know-about-the-night-adder-3/