Skip to the content
Toast Coetzer holding a fish
Toast Coetzer volcano
Toast Coetzer on the road

Toast Coetzer Kampkosmaak

Hiérdie week is dit Toast Coetzer se beurt om sy kampkosmaakgeheime met ons te deel. Toast is geen groentjie as dit by kamp kom nie. Met sy werk as reisredakteur van die tydskrif, Weg! het hy al die uithoeke van Afrika, en veral Suid-Afrika, deurgetrap met sy stapstewels. Sy geheim is eenvoudig – eenvoud. Maar laat hy self vertel ...

As reisjoernalis is dit my voorreg om gereeld op pad te wees. Ek verkies dit om alleen te reis, en om kamp op te slaan wanneer die weer dit toelaat. Soms bly ek wel in ’n gastehuis en eet dan met graagte die ontbyt wat aan my voorgesit word. Soms oornag ek ook in ’n lodge en raak uitspattig teen aandete, en bestel steak en sommer ’n glas wyn ook.

Maar die voorskot wat ek by Weg! kry vir sulke reise maak steak en wyn die uitsondering eerder as die reël. Meestal is dit maar ek, my Cadac en wat ek ook al in my koskrat saamry. Wanneer ek só op my eie reis – en vir werk, nie vir vakansie nie, daar’s ’n groot verskil! – is kosmaak nie ’n kuiergeleentheid nie. Ek werk tot donker; neem foto’s van ’n sonsondergang, doen ’n kort onderhoud met ’n medekampeerder, of soek dalk vir oulaas ’n skaars voëltjie om af te merk op my lysie.

Ek hou van kamp, maar ek hou nie van sukkel nie. Daarom reis ek met die minimum kos en toerusting. Ek noem dit die tweekratstelsel. Dit wat nie in twee kratte inpas nie, bly by die huis. My tent is klein, lig en vinnig om op te slaan. My kampstoel is my grootste en dikwels enigste meubelstuk. Al my messegoed pas in ’n leë roomysbak. Ek het ’n rasper so groot soos ’n sleutelhouer. Daarom, wanneer dit by kosmaak kom, is ek nie skaam om kitsnoedels te eet as dit moet nie. 

Ek het nie ’n gunstelingkampkosresep nie, want ek maak niks so ingewikkeld dat dit ’n resep sou vereis nie. ’n Blikkie sardiens, oopgemaak met sout oorgestrooi, is koningskos – nét so, sommer uit die blikkie geëet. Ek het nie eers ’n vurk nodig nie, ek skep dit uit met ’n Pro-Vita.

Wanneer ek myself wil bederf maak ek roerbraai. Iewers langs die pad het ek dalk ’n ui gekoop, en tamaties, of groenrissies en dalk selfs gemmer. Met ’n bietjie geluk het ek ’n stuk salami by my. Sny als op, braai in die pan oor die Cadac se vlam en aandete is gereed.

Ek bewonder altyd my medekampeerders wat soveel moeite doen met kosmaak. Daar word soms vir ure getorring aan ’n potjie. Of gewrigte word lam gekap aan twintig verskillende bestanddele wat dan Master Chef-agtig oor sewe potte versprei word.

Soos dit met kampeerders gaan, kyk jy altyd uit die hoek van jou oog, nadat jy met jou aankoms vinnig hallo gesê het, na waarmee jou buurman besig is. Wat maak hulle daar? Ons is almal maar nuuskierig.

Ek het veral een dag nogals sleg gevoel vir my bure. Ek het daardie dag seker 400 km gery tot by ’n kampplek iewers in Botswana. Ek was haastig, op pad terug huis toe, en het eers teen skemer by die kamp aangekom. My bure – ’n ouer egpaar met ’n netjiese kampeerwa en skynbaar al die katoeters wat jy ooit sou nodig kry – was nog besig met ’n pot of drie op en langs die vuur. Daar was gewoel aan ’n daktent wat nie presies horisontaal staan nie, en tussendeur moes enkels met Peaceful Sleep bespuit word. Hulle was bésig, sien ek uit die hoek van my oog.

Ek? Ek het gestop, my tentsak oopgerits, met die ander hand die Cadac laat vlamvat, die tent opgeslaan, en ’n pot vol springmielies gemaak. Binne twee minute ná my aankoms het ek al my “aandete” sit en eet in die gemak van my kampstoel. Intussen het my bure nog gesoek na ’n kurktrekker vir daardie spesiale bottel wyn wat uit die Kaap saamgery is ...

Toast Coetzer

Reisredakteur, Weg!-tydskrif