Skip to the content

Bonzo’s en ATKV-Hartenbos

Dit het onder die ATKV-bestuur se aandag gekom dat bespreking in die media plaasvind aangaande
die hernuwing van Bonzo’s se huurkontrak met ATKV-Hartenbos , en ons wil graag hierdie gerugte in
perspektief stel.

Ons terugvoer is as volg:

Die fasiliteit wat aan Bonzo’s verhuur word, word as ʼn kiosk verhuur en dit was nog nooit bedoel om
as ʼn restaurant bedryf te word nie, hoewel dit op verskeie sosialemediaplatforms só geadverteer
word. Daar was ook verskeie gesprekke tussen ATKV-Hartenbos se bestuur en die eienaar om die
nienakoming van die vorige ooreenkoms en sekere situasies wat daartoe bydra, te bespreek. Ten
spyte daarvan, het ons die kontrak aan die einde van Oktober 2021 heroorweeg en tot aan die einde
van Februarie 2022 (die einde van die finansiële jaar) verleng.

Weens COVID-regulasies, het Hartenbos Strandoord nie optredes beplan vir die Strandverhoog
tydens die Maart-/April 2022-skoolvakansie nie, en ons het dus onderhandel om die ooreenkoms vir
ʼn verdere tydperk, tot 30 April 2022, te verleng. Daarna is die ooreenkoms op versoek van die
eienaar tot 31 Augustus 2022 verleng, sodat hy genoeg tyd het om ʼn ander perseel te kry en sy
personeel te help om ander werk te kry.

Na die onlangse sosialemediaveldtog en versoeke deur die publiek, het die Hartenbos Strandoord se
bestuur besluit om weer vir Bonzo’s ʼn ooreenkoms aan te bied, met uitklaring oor sekere aspekte
wat voorheen problematies was.

Bonzo’s was egter nie vir die nuwe ooreenkoms te vinde nie.

Dit het veral die volgende behels:

1. Slegs die erf wat volgens die ooreenkoms gehuur word, mag gebruik word, en dit sluit nie
die Strandverhoog in nie.

2. Die skuif van die sitbanke vanaf agter die Strandverhoog na langs die kiosk, aangesien
daar drie erwe betrokke is en slegs een erf – 201 – regte het om ʼn kiosk te bedryf. Die
Wandellaan-gedeelte is op erf 2872 geleë, wat vir Vervoer Sone 2 Publieke Straat (ou
Saldanhaweg) gesoneer is, en geen soneringsregte vir handeldryf het nie. Die
Strandverhoog wat op erf 5 geleë is, wat admiraliteitsgrond is, het ook geen sonering vir
handeldryf nie. Die enigste erf wat gesoneer is om ʼn kiosk te bedryf, is erf 201 – Oord
Sone 1, en ons skuif dus net al die kioskbedrywighede na die erf wat daarvoor gesoneer is.

3. Geen honde of troeteldiere word op Wandellaan toegelaat nie. Oral langs Wandellaan
verskyn borde dat geen honde of enige ander troeteldiere van watter aard ook al daar
toegelaat word nie. Dit is deel van munisipale asook algemene regulasies om aan
Blouvlag-strandstandaarde te voldoen en hierdie is as ʼn vereiste in die ooreenkoms
uitgelig.

4. ATKV-Hartenbos wil nie Bonzo’s se spyskaart voorskryf nie. Ons het dit in die verlede
bespreek en op ʼn spyskaart ooreengekom, en dieselfde versoek word in nuwe
ooreenkoms aangedui.

5. Die huurbedrag is aangepas om voorsiening vir BTW, elektrisiteit, water en
vullisverwydering te maak, en is sedert 2020 nie jaar vir jaar aangepas nie, omdat
besetting en reise na Hartenbos en die omgewing deur COVID-regulasies beïnvloed is.
In die lig van bogenoemde, het Bonzo’s besluit om nie met die nuwe ooreenkoms voort te gaan nie
en die kiosk teen einde Augustus 2022 te sluit. Daar is ander belangstelling in die perseel en verdere
gebruik en aanwending sal mettertyd aan die publiek bekendgemaak word.