Skip to the content

LEGKAART BRING ‘N VARS EN UNIEKE KLANK!

MEDIAVERKLARING

31 AUGUSTUS 2022

 VIR ONMIDDELLIKE UITREIKING:

 LEGKAART BRING ‘N VARS EN UNIEKE KLANK!

Die duo, Legkaart, wat bestaan uit Anrich Gericke en Werner van der Merwe, se debuut-enkelsnit – Wentelbaan – het groot opslae gemaak in musiekkringe toe dit in 2020 uitgereik is. Dit is, onder andere, gekies as Jacaranda FM se Hot Hit of the Week, RSG se Uitskieter van die Week en het die nommer een posisie op die Kraakvars Top 40-ranglys beklee. Dít en die feit dat die liedjie al meer as 1 500 keer op plaaslike radiostasies gespeel het, het ’n suksesvolle fondasie gelê vir hulle tweede enkelsnit om op voort te bou.

EK IS DAAR kom uit voorsanger, Anrich Gericke, se eie pen en is deur Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties vervaardig. “Dit is ’n Afrikaanse pop-rocksnit wat die storie volg van twee geliefdes wat van mekaar geskei word nadat een van hulle in ’n ander land moet gaan woon, maar ook hoe die verbintenis tussen hulle nie deur afstand verbreek kan word nie,” deel dié Kapenaar oor die betekenis agter hulle nuutste enkelsnit. “Dis geïnspireer deur ’n kombinasie van spesiale herinneringe uit ons verlede, wat dit vir ons ’n baie nostalgiese lied maak om vry te stel.”

Die duo hoop dat luisteraars sal aanklank vind by die liedjie en dat dit hulle sal laat uitsien na nog musiek die toekoms. “Die liedjie bestaan uit ’n kombinasie van treffende klanke en unieke lirieke wat ons glo vir luisteraars ’n vars briesie in hierdie genre sal wees.”

Laai die enkelsnit hier af:

Legkaart is ’n musiekgroep van Durbanville in die Kaap. Omdat hulle glo dat elke groeplid, liriek en melodie bydra tot wie hulle in geheel is, het hulle gedink dat dié naam baie gepas sou wees toe hulle in 2020 saam begin musiek maak het.

Hulle het onderskeidelik fisioterapie en medies studeer en mekaar ontmoet toe hulle deel was van die Hippokrates-serenadegroep in die koshuis. Aanvanklik was albei deel van ander groepe, maar het later begin saam musiek maak toe dit nie uitgewerk het nie.

Hulle beskryf hulle styl as “poprock-musiek met ’n akoestiese hart, wat ingekleur word deur elektroniese klanke en kleurvolle lirieke”.

Anrich het vanjaar aan Die Kontrak deelgeneem as Demi Lee se keuse en hulle het ook onlangs die voorreg gehad om vir haar te open by ’n konsert. Daar is ook nog baie ander soortgelyke optredes en geleenthede in die pyplyn waaroor hulle later meer sal verklap.

Anrich is die dertigjarige hoofsanger, liedjieskrywer en ritmekitaarspeler. Hy was nog altyd lief vir musiek, maar het eers op die ouderdom van 19 begin kitaar speel en sing. Buiten vir sy studies, is hy ook besig om sy privaat vlieglisensie te voltooi en meen hy dat hy ook daarvan sou hou om ’n vlieënier te wees. Hy hou van ’n wye verskeidenheid musiek en vind veral aanklank by John Mayer, One Republic, Ed Sheeran, Taylor Swift, Bryan Adams, Linkin Park en Die Heuwels Fantasties. Hy glo daaraan dat geleenthede nie in jou skoot val nie en dat jy dit vir jouself moet skep.

Werner is die groep se hoof kitaarspeler en kom van Bloemfontein. Musiek was nog altyd een van sy groot passies en hy speel al kitaar en klavier vandat hy in die laerskool is. Sy gunsteling-genres is rock, blues en alternatiewe rock en hy meen dat musikante soos Jimi Hendrix, Jack Johnson, Stevie Ray Vaughan en John Mayer almal ’n invloed gehad het op sy eie styl. Buiten vir musiek en sy studies, geniet hy dit om nuwe stokperdjies te probeer en glo dat jy ’n goeie skoot harde werk en geluk aan jou kant moet hê om suksesvol te wees in die musiekbedryf.

Die aanslag van Legkaart se nuwe enkelsnit, EK IS DAAR, is vars en nuut en ’n goeie aanduiding van wat van hulle volgende enkelsnit en musiekvideo, wat in Oktober beskikbaar sal wees, verwag kan word. Dit is ook die begin van ’n nuwe en opwindende hoofstuk in hulle musiekloopbaan.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/LegkaartOfficial

Instagram: @legkaart_anrich

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC633rj35SV6Li6gXGlmdAgg

 

PUBLISITEIT EN BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alani Coetsee

Sel: 072 442 6918

E-pos: alani@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za