Skip to the content

DIE GELOFTE, ’N SPLINTERNUWE MUSIEKBLYSPEL NOU TE SIEN BY AFRIFORUM TEATER!

DIE GELOFTE: ’N MUSIEKBLYSPEL, Inhoud Huis Musiek en AfriForum se langverwagte musiekblyspel, het op Donderdagaand, 5 Mei ‘n uiters suksesvolle mediavoorskou aangebied.  Op Vrydagaand, 6 Mei het hierdie indrukwekkende produksie amptelik geopen en is dit deur ‘n stampvol teater staande toegejuig!

Die musiekblyspel sal nou vanaf 6 tot 29 Mei 2022 op die planke te sien wees.   

Hierdie produksie, met musiek en lirieke deur Johan Vorster en Jacomien de Wet, volg die gebeure voordat Die Gelofte tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is. Kaartjies is nou beskikbaar teen R350 per persoon op https://linktr.ee/dieGelofte.

Jannes Erasmus het die draaiboek en regie behartig van dié geskiedkundige stuk wat pragtig omskep is in ’n hedendaagse pakkie, vol hoop en lewenslesse; terwyl Francois Lessing aan die stuur van orkestrasie en musiekregie staan.

Wanneer Aimee en Ali, twee hoërskool-dramastudente, ’n kis briewe onder in die teater se kelder ontdek, leer ken hulle die verhaal van Sarel Cilliers (en die Voortrekkers) wat saam met sy gesin oor die Drakensberge trek na die beloofde land. ’n Liefdesverhaal ontvou ook tussen twee jongmense wat skynbaar ’n onmoontlike gelukkige einde kan hê.

“Die geskiedenis kan nie herskryf word nie, maar dit kan vanuit ’n ander perspektief benader word. Wanneer jy na hierdie musiekblyspel kom kyk, sal jy verstaan waarom dit belangrik is om dié verhaal te vertel. Daar word parallelle getrek wat oor byna 200 jaar strek en vandag steeds relevant is. Grond, gesinsbande en die grusame werklikheid van die lewe,” sê Erasmus

 Vorster en De Wet voeg by: “Ons vertrou dat elke persoon wat hierdie musiekblyspel gaan kyk, se lewens ook aangeraak sal word. Daar was hoop vir ons in 1838 en daar is steeds hoop vir ons vandag.”

Om dinge nog meer opwindend te maak, spog hierdie verhoogstuk ook met ’n sterbelaaide rolverdeling in die musiek- en teaterbedryf waaronder Johan Vorster, Nadia Beukes, Bernice West, Eddie de Jager, Zöricke Snyman, Jacomien de Wet, nuweling Ilán van Staden en vele meer.

Johan, wat bekend is as trefferliedjieskrywer en vervaardiger (De la Rey, Pa en Seun, Eendag as ons Groot is, Swart Koffie, Skepe, Nonna, Net voor die Storm kom, en vele meer), maak na ’n dekade agter die skerms vir die eerste keer weer sy buiging op die verhoog en het laas opgetree as deel van die SAMA-bekroonde musiekgroep, Eden (Is jy Bang, 54 5de straat, Lyf teen Lyf en Kwart oor 5).

Nog opwindende nuus is dat Bernice West se tweede enkelsnit, Soen My Op My Mond (met Ilán van Staden), vanaf haar opkomende album, JONA, wat later vanjaar uitgereik sal word, die 6d Mei op alle digitale platforms beskikbaar gestel .  Gebruik hierdie skakel om die af te laai: https://bernicewest.lnk.to/SMOMM

Die musiekvideo is ook reeds vrygestel – kyk dit hier: https://www.youtube.com/watch?v=6Jrx126QM9A&ab_channel=BerniceWestVEVO

Hierdie lied is ook een van die treffers wat in DIE GELOFTE: ’N MUSIEKBLYSPEL gehoor kan word. Die oorspronklike klankbaan vir dié musiekblyspel is ook nou op digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://DieGelofte.lnk.to/MusiekBlyspel

DIE GELOFTE: ’N MUSIEKBLYSPEL is ’n gesinsvriendelike liefdesverhaal wat in oorlogstyd afspeel en ons afhanklikheid van mekaar en God simboliseer. Dit beloof om jou op ’n emosionele reis te neem van skaterlag-tonele en knop-in-die-keel-oomblikke wat jy nog vir lank daarna sal onthou... en dit nog boonop in jou eie taal, Afrikaans!

Dit is beslis nie iets wat jy moet misloop nie. Bespreek nou jou plek hier: https://linktr.ee/dieGelofte.